Die Volksraad het aan die finansiële komitee van die Volksraad die opdrag
gegee om ’n oplossing te vind vir die finansiële uitdagings wat gepaard gaan
met ons strewe na vryheid in ’n eie territoriale gebied.
Gevolglik is Die Vryheidsfonds
in die lewe geroep, wat as ’n Artikel 21 Maatskappy bedryf sal word.
Doel van die Vryheidsfonds: Om die finansiële middele te bekom wat benodig gaan word ten einde Die Boere-Afrikanervolk behoorlik in ’n
lewensvatbare, onafhanklike Volksrepubliek te vestig.
Die korttermyndoelwitte behels
ondermeer: 1. Om die werksaamhede van
die VVK in so ’n mate te finansier dat
persone wat hulself geroepe voel om by die Boere-Afrikanervolk se strewe na ’n
eie vaderland aan te sluit, wel deur bemarking bereik kan word ten einde op die
kieserslys geregistreer te word. 2. Om alle aksies aangaande
volksvergaderings en volkstemmings te finansier wat uitgevoer sal moet word ten
einde volksbesluite aan die Regering via die Volksraad deur te gee. 3. Om die kostes te dek wat
deur die Volksraad aangegaan sal moet word ten einde hul take namens die Volk
behoorlik uit te kan voer. 4. Om dringende aandag te
gee aan die inwerkingstelling van koste effektiewe kommunikasiestelsels
waardeur landwyd en gereeld met die volk gekommunikeer kan word.
Ons besef ook dat niemand maar
niemand, buite die persone op die amptelike Boere-Afrikaner kieserslys, sal
enige sent bydrae ten einde ons te help om die suiwer ideaal van die verkryging
van ons eie soewereine Volksrepubliek te bekom nie. Die teendeel is egter waar:
’n groot menigte buite ons amptelike kieslys (en ja ongelukkig baie Afrikaners
ook) sal hul uiterste bes doen om ons pogings te kelder aangesien ’n duisternis
redes verskaf kan word waarom dit nie in hul direkte belang is om ons te sien
sukses behaal nie. Die geldmag van die Afrikaner-liberalis, gekombineer met die
belastingvorderende kragte van die huidige regering, afgerond met ’n sousie van
swart ekonomiese bevoordeling, laat ons absoluut aangewese op ons Skepper en
onsself om ons eie finansiële heil uit te werk.
Uit hoofde van al hierdie bogenoemde sake, het die finansiële komitee van
die volksraad besluit om hierdie behoefte daadwerklik aan te spreek. Daar is
besluit op ’n eenvoudige debietorderstelsel waar die hele volk op ’n maandelikse basis klein bedrae tot die Volkskas bydra. Die minimum bedrag wat van
elke kieser op die kieslys verwag word, is R100 per maand. Finansieel sterker
persone word egter hartroerend versoek om ruimskoots hul bydraes aan te pas na
bedrae wat R100 oorskry. Kiesers wat egter onder soveel finansiële druk verkeer
dat hulle werklik nie by magte is om
R100 per maand by te dra nie, kan ’n versoek tot die finansiële komitee rig vir
’n verminderde bedrag. Kom ons noem dit ‘n vrywillige vryheidsbelasting. Waar elke persoon vir wie vryheid werklik
belangrik is, ’n bydrae lewer om hierdie belangrike saak finansieel te steun.
Die idee is dat elke kieser op die kieslys so spoedig moontlik sy
debietorder invul en ingee sodat die Vryhiedsfonds kan begin stukrag kry. Hoe
gouer hierdie fonds begin stukrag kry hoe beter want tyd is teen ons. Dit gaan
baie vinnig die fondse aan die VVK beskikbaar stel om ons volk se kieslys uit
te brei na ’n veelseggende getal. Dit gaan ook vinnig die broodnodige fondse
verskaf sodat die Volksraad op ’n professionele wyse te werk kan gaan ten einde
ons Volk se vryheidsideaal tot uiting te bring.
In hierdie saak is dit ook belangrik dat die Vryheidsfonds medewerkers kry
in die verskillende dele van die land. Gevolglik word daar ’n beroep gedoen op
Volksgenote wat bereid is om op te tree as medewerkers, om die Volksraad te
kontak by kontak@volksraad.co.za